Die kopiereg teken op die foto is net tydelik, omdat ons nie graag wil sien dat gebruik word voor dit nie amptelik gepubliseer is nie.

In my navorsing oor die gebruik van wyn in die Bybel het ek afgekom op  Spreuke 23:31. In die 1953 Ou Afrikaanse Vertaling lees dit as volg:

“Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie.”

Gedurende die inperkingstyd het ons kans gekry om ʼn paar eksperimente te doen. Eksperimente waardeur ons baie geleer het in verband met die maak van antieke wyn. Dit verskil natuurlik heeltemal van die wyse waarop moderne wyn geproduseer word. Die probleem vir my was dat die vertaling van Spreuke 23:31 in alle Bybels waarop ek my hand kon lê, net geen sin gemaak het nie. In die Hebreeus kom die woord “oog” (ayin) in die vers voor, maar ook in twee verse kort voor dit en in een net daarna. In die verse lees ons:

Vers 26: “My seun, gee my jou hart, en laat jou oë (ayin) ’n welgevalle hê in my weë.”

Vers 29: “By wie is daar dowwe leë oë (ayin)?”

Vers 33: “Jou oë (ayin) sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek.”

Dieselfde woord ayin kom egter in vers 31 ook voor, maar elke Bybel vertaal dit op ʼn wyse wat alles behalwe “oog” beteken. Nêrens kon ek ʼn Bybel kry wat die woord ayin in Spreuke 23:31 as “oog” vertaal het nie. Verskillende vertalings het die woord selfs net weggelaat. Die res van die vertaling van die vers was net so onduidelik. Wat was dit wat Salomo daar gesê het?

Hierdie vrae het gemaak dat ons by die naby geleë wynlandgoed van die Dreyer familie, RAKA Wyne, gaan aanklop het om te hoor of hulle ons nie sou kon help om druiwe te pers en te laat fermenteer soos dit in die Bybelse tyd gedoen was nie. Die plaasbestuurder, Pieter, en sy broer die wynmaker, Josef, was dadelik bereid om ons te help. Wat ʼn ondervinding was dit nie!

Met die dat die druiwe by die kelders afgelaai word om gepers te word, het Pieter ʼn groot klomp in ʼn bak uitgekeer. Marina het haar skoene uitgeskop en die druiwe in die bak getrap soos hulle in die antieke tyd druiwe gepers het. Die mos, soos hulle die sap noem, het Pieter toe deur ʼn klompie van die uitgetrapte stingels laat uitloop in ʼn emmer. Dit was die wyse waarop hulle destyds die mos in Israel gefiltreer het. Ons was verras om te sien hoe effektief die stingels die mos filtreer, want dit het besonder skoon in die emmer uitgetap.

Daarna het Pieter toe net soveel water as die hoeveelheid mos wat in die emmer was, by die getrapte druiwe gegooi. Die het Marina toe weer getrap, waarna Pieter die mos weer deur stingels in ʼn tweede emmer uitgetap het.

Die eerste emmer se mos is die waarmee sogenaamde “koninklike wyn” (Ester 1:7) of eerstegraadse wyn, destyds gemaak was. Dit is die wat in Johannes 2:10 die “goeie wyn” genoem word en aan die begin van die sewedae lange bruilofsfeeste, gemeng met vier dele water, bedien word. Die in die tweede emmer is die tweede graadse wyn bekend as posca wat in Johannes 2:10 die “slegte wyn” of wyn van ʼn “swakker gehalte” genoem word. Hierdie tweede graadse wyn is die wat gedurende die res van die fees, met drie dele water gemeng, bedien word na die “goeie gehalte” die eerste dag al klaar gedrink is.

Ek en Marina het toe elke dag na RAKA gery om die twee emmers met die fermenterende mos vir ʼn paar minute lank elk af te neem en te sien of ons iets daaruit kon wys word. Die sewende dag, toe ons die doeke van die emmers afhaal, het ons amper terug gedeins want die mos het gelyk asof dit skielik lewe gekry het. Dit het ons direk in die oë gekyk! Ons kon ons oë nie glo nie. Dit wat julle op die foto hierbo sien is die “oë” waarmee die mos nou vir ons “gekyk” het. Ek glo dit is waarna Salomo verwys het toe hy geskryf het:

Kyk nie na die wyn wanneer dit rooi word, wanneer dit sy oog in die reservoir gee en versigtig afgetap word nie.

Reg aan die begin, toe die mos deur die stiggels gefiltreer is, was dit lig rooi, eerder ʼn bietjie pienkerig. Gedurende die tyd kon ons nie elke dag die kleur daarvan sien nie, want dit was meeste van die tyd bedek deur die skuim wat bo dit opgestoot het. Nou kon mens deur hierdie “oë” die mos waarop dit gedryf het weer sien. Dit het nou ʼn duidelike diep donker rooi kleur gehad. Bo-op dit het verskillende borrels gedryf wat net soos die oë van mense gelyk het. Dit was te goed om waar te wees! Die ontdekking van hierdie “oë” was vir ons ʼn groot deurbraak, want dit het ons gehelp om baie dinge omtrent die proses waarop antieke wyn gemaak was beter te verstaan.

Ons het geweet dat die mos moet fermenteer tot op die punt dat dit oorgegooi of oorgeskep moet word in erdekruike, amforas en leersakke. Al die klein stukkies wat nie uitgefiltreer was nie sou teen die tyd al afgesak het. Op ʼn spesifieke stadium moes die mos van hierdie afsaksels “afgetap” word. As dit nie op die regte tyd gebeur nie, bederf die afsaksels die smaak en geur van die mos (Vgl. Jeremia 48:11-12). Deur hierdie ontdekking het ons geleer dat wanneer die mos so ʼn “oog” gee, dan is dit die tyd dat dit van die afsaksels geskei moet word. Dit moet versigtig oorgegooi, uitgeskep of afgetap word sodat so min as moontlik van die afsaksels saam daarmee sal oorvloei. Na dit afgetap is sal dit steeds tot ʼn mate verder gis tot dit heeltemal “droog” gefermenteer is. Vandat dit oorgetap is tot dit finaal droog gefermenteer het, het hulle destyds daarvan gepraat as “nuwe wyn” (Matteus 9:17).

Volledigheidshalwe wil ek net noem dat sulke wyn baie sleg smaak en ruik. Ek het my vinger tussen die oë in die mos ingesteek en ʼn druppel daarvan op my tong gesit. Dit het vir my gevoel asof ʼn slang my op my tong pik. Pieter Dreyer het dit ook gedoen en net gesê: “Jig, maar dié mos smaak sleg!” Selfs die volgende dag was daardie skerp slegte smaak nog steeds in my mond. Toe het ek verstaan waarom Salomo in die volgende vers sê dat as iemand daarvan sou drink, dit “byt dit soos ’n slang en spoeg gif soos ’n basilisk” (Spreuke 23:32). In teenstelling met vandag se moderne rooiwyn wat tot 15% alkohol kan bevat, het hierdie eerste graadse wyn maar 6% alkohol. In die antieke tyd was dit nie net so gedrink nie maar is die wyn normaalweg met drie tot vier dele water gemeng net soos munisipaliteite vandag chloor in ons drinkwater gebruik in die suiweringsproses daarvan. Die wyn of eerder die alkohol daarin is dus gebruik om hul water te disinfekteer. Verder was daar ook na behoefte versoeters soos heuning en ander middele bygevoeg om die water, wat hulle “wyn” (yayin of oinos) genoem het, aangenamer te maak.

Jesus het water in wyn verander, wetende dat die wyn op iets sien wat die bruilofsgaste gladnie op daardie staduim sou verstaan het nie. Hy het daardie dag sy heerlikheid geopenbaar deur wyn te skep, wyn wat gesien het op sy bloed waarmee Hy later aan die kruis sou betaal om hulle vir sy Vader te koop.

Die Here Jesus het vir ons elkeen ook betaal met sy bloed.

Glo jy in Hom?