Gedurende 1994 het ons betrokke geraak by die maak van ʼn video-reeks terwyl ons voltyds in ʼn gemeentelike bediening te Bloemfontein gestaan het. Dit was toe dat ons besef het hoe effektief dit is om die Woord deur middel van ʼn audio-visuele medium uit te dra. Die Here het toe baie duidelik met my en Marina gepraat en gesê dat ons moet vootgaan met die maak van video’s en dit op ʼn voltydse basis. Die roeping het veral behels dat ons die agtergrond van die Bybel moes uitbeeld. Om dit te kon doen sou ons die Here moes vertrou vir ons salaris asook vir al die apparaat wat ons vir die bediening sou benodig. Omdat Kaapstad bekend gestaan het as die “video Mekka” van die wêreld, het ons destyds met ons drie skoolgaande kinders daarheen verhuis en wonder bo wonder het ʼn bank vir ons ʼn huislening toegestaan. Ons het egter geen manier gehad waarop ons dit sou kon betaal nie behalwe as die Here daarvoor sou voorsien deur die donasies van die mense wat op die Kerugma adreslys was.
In reaksie op die video-reeks wat ons in die gemeente begin maak het, het ons navrae van oor die hele land ontvang en so het die Kerugma Bulletin ontstaan as ʼn poging om almal se vrae te beantwoord. Op daardie stadium het ons sowat 400 adresse op die adreslys gehad. E-pos het destyds net begin, gevolglik was alles per gewone pos uitgestuur. Kort na ons aankoms in die Kaap het ons toe ʼn Kerugma Bulletin uitgestuur waarin ons verduidelik het hoe die Here ons geroep het om voltyds in die geloof uit te stap. Daarmee saam het ons ʼn lys van alles waarvoor daar finansies benodig word soos ons salaris, die huispaaiement, ʼn uitsaai gehalte kamera, ʼn redigeerstasie en dies meer ingesluit en die mense gevra dat hulle asseblief moet bid om te hoor of die Here nie wil hê dat hulle die bediening finansieel moet ondersteun nie. Ons het gevra dat die wat ervaar dat die Here hulle lei om te gee, langs die item wat die Here op hul hart lê, moet aandui hoeveel hulle maandeliks daarvoor sou bydra.
Die eerste reaksie wat ons gekry het was ʼn persoon wat geskryf het: “Haal my naam van julle adreslys af. Julle is tipies van ʼn kerklike organisasie, want julle vra vir geld.” Die tweede reaksie was iemand wat gesê het: “Ja, ek het julle bedelbrief gelees.” Die persoon het verder bygevoeg dat as mens in die geloof lewe dit niks met ander mense te doen het nie. Dit is tussen jou en die Here en jy moet Hom vra vir dit wat jy nodig het en nie vir mense nie.
Ons was omtrent geskok deur hierdie reaksie want ons het so duidelik geskryf dat elkeen self moet bid om te hoor of die Here wil hê dat hulle iets moes bydra. Ons het nie vir geld gevra nie, maar wel dat almal sou bid om te hoor of die Here vir hulle iets in die verband sê.
So het ons gou ontdek dat daar baie verskillende opinies is oor hoe ʼn mens “in die geloof lewe”, maar ook dat daar baie is wat nog nooit gehoor het dat iemand dit doen nie. Dit was vir ons vreemd om te ontdek dat daar kinders van die Here is wat nog nooit gehoor het van mense wat in die geloof gelewe het soos Hudson Taylor en George Muller nie of wat hul biografieë gelees het nie. Beide van hulle het destyds mense per brief ingelig in verband met hul bedieninge en hul bepaalde behoeftes en die Here vertrou om in mense se harte te werk om daarvoor te gee.
Die feit is dat daar op daardie stadium nog geen finansies ingekom het nie behalwe vir twee van ons vriende wat, toe ons Kaap toe verhuis het, uit hul eie begin het om vir ons maandeliks onderskeidelik R500.00 en R1000.00 te gee. Meeste daarvan het ons daardie eerste maand gebruik vir die fotostate en posgeld van daardie eerste Kerugma Bulletin wat ons uitgestuur het.
ʼn Paar dae later het ons egter ʼn reaksie ontvang van iemand wat onderneem het om R150.00 per maand te gee. Sy het deur die jare daarmee volgehou en gee dit vandag nog steeds! Daar was verder ʼn vierde reaksie van iemand wat onderneem het om ʼn hele R1000.00 per maand te gee. Sy het dit vir ʼn tyd gereeld elke maand gegee tot op ʼn dag toe sy gebel het om te sê dat sy as gevolg van ʼn persoonlike krisis waarin sy beland het, ongelukkig nie meer daarmee sal kan voortgaan nie.
Verder was daar diegene wat laat weet het dat hulle ongelukkig nie sal kan bydra nie, maar hulle bid graag saam met ons vir die Here se voorsiening.
Aan die einde van daardie eerste maand was ons toe in groot moeilikheid want ons sou onder meer nie die paaiement van die huislening kon betaal nie. Daar was egter ʼn fasilitiet aan die huisleningrekening gekoppel waar mens ekstra geld kon inbetaal wat jy enige tyd weer kon onttrek. Verder het ons, met die oorplasing van die huis op ons naam, ʼn tydelike oortrokke fasiliteit op ons eie lopende rekening gehad. Uit hierdie oortrokke rekening kon ons toe die eerste paaiement betaal. Kort na die begin van die maand het ons toe die geld weer daaruit onttrek en dit terug geplaas in die oortrokke rekening. So het ons maand vir maand gedoen omdat daar nie een maand genoeg was om die huis mee te betaal nie. Dit het natuurlik tot baie ekstra koste en opgehoopte rente gelei sodat die paaiement natuurlik al hoe groter geword het. Ons het baie met die Here daaroor gepraat, dikwels gevas en Hom gesmeek om vir ons ʼn uitkoms te gee, maar na 17 jaar het die paaiement so hoog gestyg, dat ons dit ook nie meer op die wyse kon betaal nie.
Op ʼn dag gedurende November 2013 toe ek met my hartaanval vir 15 dae in die hospital gelê het, het Marina vir my genoem dat die paaiement daardie dag nie afgegaan het nie. Alhoewel ons nie kon verstaan waarom die Here ons nooit verhoor het in die verband nie, het dit nie as ʼn skok gekom nie. Ons het dit immers verwag. Ons het toe besluit om die huis te probeer verkoop voor die bank daarop kon beslag lê. Die Here het voorsien dat die huis betyds verkoop het en na die oorspronklike prys van die huis en die opgehoopte rente deur die bank afgetrek was, was daar weens die waardevermeerdering van die huis deur die jare, nog ʼn bedrag oor.
Ons het oral in die Kaap gesoek na ʼn huis teen daardie bedrag wat geskik sou wees vir die bediening, maar kon niks kry nie. Ons het selfs by verskeie banke aansoek gedoen vir ʼn lening, maar omdat ons deur die jare geen salaris gekry het nie, was daar net geen manier waarop ʼn bank so iets sou toestaan nie.
Die Here het egter al die tyd ʼn wonderlike plan gehad. Sy manier van voorsien staan bo alles uit! ʼn Vriend van ons bied toe vir ons aan om vir ʼn paar dae hul strandhuis te gebruik om net ʼn bietjie tot verhaal te kom na my hartaanval. Dit was gedurende die tyd dat ons toe eendag ʼn bietjie verder gery het en op die huis waarin ons sedertdien hier in Pearly Beach bly, afgekom het. Dit was ʼn dringende verkoop sodat die prys selfs op die agent se bordjie voor die huis aangebring was. Dit was presies die bedrag wat ons uitgekry het na die verkoop van ons huis in Kuilsrivier! En hier het ons ʼn huis, alhoewel baie klein, maar waarin ons altwee ʼn plek het vir ons redigeerstasies. Dit het mettertyd tot ons deurgedring dat die Here al die tyd ons gebede deur die jare gehoor het en nou so beantwoord het deur vir ons op die ou end ʼn huis te gee wat ten volle betaal is! Is dit nie wonderlik hoe anders die weë van die Here is as ons weë nie?
En so leef ons vandag nog steeds sonder enige salaris, pensioen of enige ander inkomste asook met ʼn groot tekort op dit wat Kerugma elke maand moet betaal. Tog het die Here ons tot hiertoe gebring en gee dit alles aan ons die sekerheid dat Hy besig is om op sy wyse ook al ons ander gebede te verhoor