“Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:25).

DIE HERE VOORSIEN IN ʼn SONKRAG-SISTEEM VIR KERUGMA!

So met die aanbreek van 2021 het ons die goeie nuus dat die Here op ʼn wonderbaarlike wyse vir Kerugma Produksies in die nodige sonkrag-sisteem voorsien het! Ons gaan netnou vertel hoe dit gebeur het, maar dit het ons baie laat terugdink aan die pad waarmee die Here ons deur die jare gelei en gedra het.

Soos ons in ʼn vorige Kerugma Bulletin genoem het, was ons oorweldig deur die reaksie wat ons van so baie ontvang het op ons gebedsversoek in verband met die beurtkrag-situasie en ons behoefte om ononderbroke aan die redigering van die DVD’s te kan werk en dit op die internet te kan oplaai.

Nou het ons die voorreg om julle die goeie nuus mee te deel dat die Here al julle gebede verhoor het! Dit is wonderlik om dit te beleef en dien tot versterking van ʼn mens se geloof.

Gedurende die jare is ons deur verskillende kerkleiers vermaan om nie in die geloof te lewe nie. Sommige van hierdie geestelik leiers na wie ons opgesien het vir raad en leiding, het ons byvoorbeeld streng gemaan om dit nie aan onsself en veral nie aan ons kinders te doen nie. Ons het telkens maar net geantwoord dat ons maar net doen dit wat die Here ons gelei het om te doen. En as ons nie die Here daarvoor vertrou nie, wie gaan Kerugma dan finansieel dra?

Die feit is net dat niemand uit hulself sal besluit om so sonder enige gewaarborgde inkomste te leef en te werk nie. Wanneer mens byvoorbeeld die lewensverhale van mense soos George Müller en Hudson Taylor lees, dan blyk dit dat nie een van hulle self besluit het om dit te doen nie. Soos vir ons het die Here elkeen van hulle deur besondere omstandighede gelei tot waar hulle op Hom alleen aangewese was vir alles wat nodig was om hul bediening te kon volvoer. Hudson Taylor het byvoorbeel na ʼn seereis van ses maande in China aangekom terwyl die bediening in Engeland wat hom gestuur het beloof het dat hul eerste tjek vir hom met sy aankoms in Shanghai sou wag. Gedurende sy reis het die bediening egter geskeur met die gevolg dat daar geen tjek vir hom was nie. Selfs nie eers ʼn brief wat aan hom verduidelik wat die situasie was nie. Na hy deur baie moeilike tye van oorlog, honger, koue en die verwerping deur ander sendelinge gegaan het, ontvang hy toe op ʼn dag ʼn tjek wat behoorlik sy lewe gered het. Dit kom toe van ʼn onbekende persoon wat hom voor sy vertrek by ʼn biduurgeleentheid gehoor praat het. Die persoon skryf toe dat die Here dit op sy hart gelê het om die geld aan Hudson Taylor te stuur. Die Here het daarna vir baie jare in die hart van hierdie selfde persoon gewerk om Hudson Taylor se bediening met sy finansies te ondersteun.

Van die geestelike leiers wat ons probeer afraai het om in die geloof te lewe, het verduidelik watter slegte gevolge al die finansiële druk en swaarkry op ons kinders sou hê. Ons het die saak meermale biddend na die Here geneem en sy antwoord was Psalm 37:25.

Ek vertel dit net om te noem dat ons die goeie nuus van hoe die Here nou voorsien het in hierdie sonkrag-sisteem hierdie Kersnaweek toe al ons kinders kom kuier het, met hulle kon deel. Dit was wonderlik om hul blydskap daaroor te ervaar. Hulle was altyd as kinders so opgewonde wanneer die Here voorsien het in klein dingtjies maar ook in iets soos ʼn fotostaatmasjien of ʼn kamera vir die bediening.

Dit was ons voorreg om aldrie ons kinders self na die Here te lei. Die twee seuns, Filip was toe 7 en Rudolf 5, het saam een aand tot bekering gekom en ons dogter, Johannelie, het ook een aand toe sy 9 jaar oud was saam gebid en die Here gevra om haar met sy bloed te reinig en haar lewe oor te neem.

As student in Veeartsenykunde het Johannelie betrokke geraak by ʼn studentegroep wat een keer per jaar opgery het vir ʼn drie weke sending uitreik aan die oewer van die Malawie meer. Sedert sy haarself by ʼn praktyk hier naby op Bredasdorp gevestig het, gebruik sy haar jaarlikse verlof om van hier af al die pad op te ry daarheen. Die hele jaar maak almal wat aan die uitreik deelneem allerlei voorrade van klere en dies meer bymekaar om die voertuie vol te pak vir die mense daar.

Filip werk voltyds by Stad Kaapstad terwyl hy homself na sy aanvanklike studies op die teologie toegelê het en onlangs is hy georden as predikant. Hy is intussen met Amy, ʼn Amerikaanse sendeling getroud. Hulle sou nooit kinders kon hê nie, maar die Here het in antwoord op gebed die wonderwerk gedoen om aan hulle hul eie seuntjie, Zane, te gee.

Alhoewel hy voltyds werk om hulle te onderhou, is hulle onder leiding van ʼn gevestigde gemeente verantwoordelik vir ʼn uitreik na ʼn informele nedersetting in Fisantekraal. Ons hoor gereeld van hoe van jongmense in die dienste tot bekering kom.

Rudolf is ʼn siviele ingenieur in Johannesburg en is getroud met Beani, ʼn violiste wat hy in die kerk ontmoet het waar hy vir verskillende dinge verantwoordelik is waaronder die hantering van die klanksisteem. Hulle is veral ook betrokke by ʼn jaarlikse uitreik na die kinders gedurende die Junie vakansie. Dit is iets waarvoor Rudolf in die wieg gelê was en Beani is die regte een om dit saam met hom te doen. So gedurende die COVID-grendeltyd help hy ook met die afneem en oplaai van hul gemeente se preke.

Ons vertel dit graag tot eer van die Here omdat ons so by herhaling gewaarsku was dat dit negatiewe gevolge vir ons kinders sou inhou as ons ons vertroue in die Here Jesus alleen sou plaas. Die Here het ons gebede vir die kinders wat Hy aan ons toevertrou het, baie duidelik beantwoord. Deur hul kinderjare het hulle geleer om Hom vir alles te vertrou. Niks was maar vanselfsprekend daar nie. Hul ouers het geen inkomste of salaris ontvang nie en dinge het meeste van die tyd maar broekskeur gegaan. Hulle het self gebid vir die nodige skoolklere, kleurbaadjies, musiek instrumente en sportklere, fietse en dies meer. Hulle het wonderlike verhale om te vertel van hoe hulle gesien het dat die Here sorg en voorsien. Deur dit alles het hulle ook geleer om sonder baie dinge wat vir hul skoolmaats vanselfsprekend was, klaar te kom. Maar deur dit alles het hulle geleer dat die Hemelse Vader ons gebede hoor en verhoor!

Alhoewel ons baie keer nie geweet het waar die kos vir die volgende dag vandaan sou kom nie, het nie een van hulle ooit honger gaan slaap nie. Die Here het deur al die jare inderdaad sy belofte aan ons in Psalm 37:25 gestand gedoen!

Ook na skool, toe hulle op universiteit was, het die Here gesorg dat hulle kon studeer. Ek gaan net een voorbeeld daarvan noem naamlik die besondere wyse waarop die Here vir Johannelie se studies voorsien het. Die eerste jaar het sy ʼn beurs-lening van die staat gekry. Aan die begin van die tweede jaar was sy weer daarvoor goedgekeur, maar Junie toe die gelde betaal moes word het hul storie skielik verander. Ons het net nie geweet wat om te doen nie. Dit was natuurlik voor die tyd van die “The Fees Must Fall” veldtog. Ons was letterlik met ons rug teen die muur. Dit het ons harte gebreek, maar na baie dinge wat ons probeer het, het ons besef dat ons haar sou moes skakel met die nuus dat sy nie verder sou kon studeer nie. Sy het al voor sy skool toe gegaan het gesê dat sy eendag ʼn “dieredokter” gaan word en nou was sy daarmee besig. Toe ons op die punt gestaan het om haar te bel, laat weet sy ons dat een van haar professore haar uit die bloute gebel het om te vra of sy sal omgee as hy haar naam opgee vir ʼn beurs vir behoeftige studente. Ons was dankbaar maar het nie geweet wat daarvan sou word nie. ʼn Paar dae daarna het sy net op ʼn dag ervaar dat dit was asof die Here sê dat sy die persoon wat verantwoordelik was vir die beursaansoeke dadelik moes bel. Sy het dit toe gedoen en die dame noem toe dat dit die laaste dag is waarop sy die aansoeke kan indien. Sy het almal gereed, maar sy kan egter nie Johannelie se aansoek indien nie weens sekere van die vereistes waaraan sy nie voldoen nie. Johannelie noem toe dat die inligting wat sy noem nie korrek is nie en verduidelik toe wat die situasie was. Daarmee het die vrou toe haar aansoek by die ander ingesluit en herhaal dat as sy ʼn dag later sou bel, dit te laat sou wees.

Die wonderlike was dat die beurs toe goedgekeur was en dit was ʼn beurs wat haar studies elke jaar tot die einde toe tenvolle betaal het!

Is die Here nie wonderlik nie?

So het Hy ook op sy eie unieke manier voorsien in die sonkrag-sisteem waarvoor julle saam met ons gebid het. Met die vrystelling van Dr. Randall Smith se reeks van ses DVD’s oor Paul, His Life & His Writings verlede maand, praat ons toe op ʼn stadium telefonies met ‘n persoon oor die stel DVD’s. Net voor hy aflui vra hy of ons vir hom kan sê hoeveel ons nodig het vir die sonkrag-sisteem. My antwoord was dat dit baie geld is. Hy sê toe dat hy sekerlik nie alles daarvoor kan gee nie, maar hy het die oggend met sy Finansiële Adviseur daaroor gepraat en uit ons nuusbriewe lei hy af dat ons dieselfde Finansiële Adviseur as hy gebruik. Sy Finansiële Adviseur het vir hom gesê om ʼn sekere bedrag vir Kerugma vir die stelsel te gee. Omdat ek steeds huiwerig was om die bedrag te noem, het ek toe aangebied om vir hom die kwotasie wat ons daarvoor gekry het, aan te stuur.

ʼn Dag of wat later skakel hy my toe om te sê dat sy Finansiële Adviseur vir hom gesê het dat ons maar kan voortgaan om die stelsel te laat installeer! Ek was so stil dat hy my gevra het of ek weer ʼn hartaanval gehad het. Die feit is dat ek so oorstelp was dat ek nie ʼn woord kon uitkry nie.

Die kinders was net so oorstelp toe ons hulle dit meegedeel het en so glo ons almal van julle ook. Die Here hoor nie net ons gebede nie, maar verhoor dit inderdaad ook!

Die stelsel is ʼn paar dae gelede geïnstalleer met die gevolg dat ek nou gedurende ʼn beurtkrag-sessie sonder enige probleem hierdie Bulletin vir julle sit en tik. Dit is meer as ʼn droom wat waar geword het. Ons kan nou sonder enige onderbreking onverpoos die werk van die Here doen!

Ons is die Here dankbaar vir ons kinders, dat Hy in sy genade en liefde so in hul lewens werk. Veral as ons na verskillende van ons vriende se hartseer verhale oor hul kinders luister, dan weet ons dit is besonder groot genade. Tog is dit ʼn getuienis dat ons die Here kan vertrou en alhoewel ons ook kan praat van baie moeilike tye bly daar net een weg en dit is gehoorsaamheid aan sy stem. So glo en vertrou ons dat hierdie getuienis van hoe die Here in hierdie sonkrag-sisteem voorsien het deur een van sy kinders  se gehoorsaamheid, vir julle almal tot bemoediging sal dien. ʼn Getuienis dat die Here ons gebede hoor en verhoor.

Daarmee wil ons elkeen van julle wat saam daarvaar gebid het asook vir diegene wat so spontaan bygedra het vir die sisteeem bedank vir jul gehoorsaamheid aan die Here. Mag Hy julle ryklik daarvoor seën.

Ons vertrou dat hierdie getuienis vir almal van julle sal dien tot die versterking van jul geloof en julle aanmoedig om die Here met net nog meer vrymoedigheid te nader oor jul alledaagse en besondere behoeftes.

Dank asseblief saam met ons die die Hemelse Vader vir hierdie wonderlike voorsiening. Dit kom as so ʼn bemoediging asook as ʼn bevestiging dat dit wat ons doen die Here behaag. Iets wat Hy ondersteun en wat Hy wil hê ons mee moet voortgaan. Om te dink dat die Here vir ons deur hierdie stelsel voorsien het in elektrisiteit vir baie jare vorentoe. Wat ʼn wonderlike aanmoediging!

Bid asseblief gereeld vir ons dat ons elke dag net dit sal doen wat Sy wil en plan vir daardie dag  is.

Loof sy Naam saam met ons, want ons aanbid die Lewende God.

Mag die Here Jesus julle ryklik seën.

Groete in sy Naam,

Naas en Marina le Roux

Ns.: Deur na die name “George Müller” en “Hudson Taylor” op die internet te soek sal julle baie inligting omtrent hul lewens en bedieninge vind.

Lees gerus George Müller se outobiografie hier: http://www.georgemuller.org/uploads/4/8/6/5/48652749/the-autobiography-of-george-muller.pdf

Lees ook gerus Hudson Taylor se lewensverhaal hier:

https://worldinvisible.com/library/hudsontaylor/hudsontaylorv1/hudsontaylorv1tc.htm[:]