Posted on Leave a comment

Die Regterstoel van Christus

Gedurende ons verfilming van die onlangse Italië en Griekeland toer het Dr. Randall Smith vir ons in die ruïnes van die stad Korinte ‘n bema getoon. ‘n Bema is ʼn opgeboude platvorm op die stadsplein. ‘n Kort video waarop dit gesien kan word, is op hierdie webtuiste beskikbaar. Op die Tuisblad onder “In die voetspore van Paulus,” sal u dit vind onder die opskrif: “DIE REGTERSTOEL VAN CHRISTUS.” Dr. Randall Smith het verduidelik dat so ʼn platvorm of bema die verhoog is waarop ʼn regter per geleenheid regspraak kon uitoefen. ʼn Voorbeeld hiervan is Handelinge 18:12-16 waar die Romeinse prokonsul, Gallio, op hierdie bema ʼn uitspraak ten opsigte van Paulus moes lewer. ʼn Ander doel waarvoor die bema eintlik gebruik was, was om na kompetisies aan die wenners hul lourier- of oorwinningskranse te oorhandig (1 Kor. 9:25). Ons sien vandag steeds by sportgeleenthede hoe die wenners van die eerste drie posisies op ʼn podium verskyn om hul bekers te ontvang. Paulus gebruik die beeld van die toekenning van die lourierkranse by die bema te Korinte, om die loon wat ons as gelowiges gaan ontvang, te beskryf:

Ons moet almal voor die regterstoel [die bema] van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was” (2 Kor. 5:10).

Dr. Randall Smith verduidelik dat Paulus die woord bema hier gebruik as ʼn beeld van die dag wanneer die kinders van die Here voor “die regterstoel van Christus” sal verskyn. Die vertaling van bema as “regterstoel” gee egter die indruk van ʼn hofsaak waar misdadigers gevonnis word. Die beeld wat Paulus gebruik sien egter op iets heel anders, naamlik die geleentheid wanneer die Here Jesus ons lewens gaan beoordeel en aan ons ons loon gaan gee. “Loon” in die Bybel is soos “die kroon van die lewe” wat die Here beloof aan die wat “die toets deurstaan” (Jak. 1:12). Paulus verduidelik dan ook na aanleiding van atlete wat aan ʼn wedloop deelneem, dat hulle dit doen om “ʼn verganklike oorwinningskrans” te ontvang. Wanneer die blomme verlep het, was dit verby. Daarteenoor sê hy dat ons so aan die Christelike lewenswedloop moet deelneem dat ons sal wen. Ons neem so deel dat ons as oorwinnaars uit die stryd sal tree. As ons dit doen gaan ons immers ʼn “onverganklike oorwinningskrans” ontvang (1 Kor. 9:24-25).

Die beeld van die bema wat Paulus gebruik het, sou vir die Korinthiërs duidelik gewees het. Hulle sou verstaan het dat om voor die “regterstoel” te verskyn beteken om erkenning vir jou prestasie te ontvang. In die geval van 2 Korinthiërs 5:10 sou ʼn beter vertaling van die woord bema dus wees: “Ons moet almal voor die podium van Christus verskyn …”

Ons gaan nou kyk na wat by hierdie besonder bema-geleentheid gaan gebeur. Voor dit is dit net eers nodig om te kyk na wat Randall in verband met die verskillende oordele waarvan ons in die Bybel lees, verduidelik het.

Hy sê dat volgens die Bybel gaan elke mens, beide die gereddes en ongereddes, twee verskillende oordele ondergaan. Daar is egter ‘n onderskeid tussen die oordele van die gelowige teenoor die van die ongelowige. Die eerste oordeel wat almal ondergaan, is ʼn oordeel oor sonde. As jy ʼn gelowige is, dan is jou sonde reeds geoordeel aan die kruis. Daar is egter ʼn ander oordeel naamlik die oordeel oor jou prestasie. Dit is die bema- of podium oordeel van die gelowige soos waarvan ons in Romeine 14:10b, 1 Korinthiërs 3:12-15 en 2 Korinthiërs 5:10 lees.

Die ongelowige het net so ook twee oordele. Beide vind by dieselfde geleentheid plaas, naamlik by die Groot Wit Troon Oordeel soos beskryf in Openbaring 20:11-15. Al die ongeredde mense word hier vergader en word vanuit twee boeke geoordeel. In terme van hul sonde word hulle geoordeel deur te kyk of hul name in “die boek van die lewe” geskryf is of nie. Elke ongeredde persoon gaan hier die geleentheid kry waar daar gekyk word of hy gedurende sy lewe Jesus se offer vir sy sonde aan die kruis aanvaar het of nie. As hy dit nie gedoen het nie, word hy in die poel van vuur gewerp. Dit gebeur egter nie voor hy nie eers sy tweede oordeel, naamlik die oor sy prestasie, ondergaan het nie. Daarvoor word ʼn ander boek geopen, naamlik die boek oor die goeie en slegte dade van die mense. Elkeen word dan na aanleiding van dit wat in dié boek oor hom of haar opgeteken is, beoordeel. Hulle word dus in alle regverdigheid volgens hul prestasie, “volgens hul dade,” geoordeel (Open. 20:12).

Die oordeel oor hul dade bepaal dus nie hul eindbestemming nie, maar wel oor watter mate van straf hulle vir ewig in die poel van vuur sal verduur. Hul eindbestemming is reeds bepaal toe gevind is dat hulle name nooit in die boek van die lewe opgeteken is nie. Hul lewe bepaal egter die graad van die ewige straf wat hulle opgelê word.

Die twee oordele wat elke persoon dus ondergaan is oor sonde en prestasie. Die gelowiges se oordeel oor hul prestasies geskied egter apart van die van die ongelowiges, naamlik by die bema beoordeling in die hemel.

Dit is daardie besondere geleentheid waar almal wat deur die eeue heen tot geloof in Jesus se offer aan die kruis gekom het, vir die eerste keer saam voor sy troon gaan staan. Dit is wanneer ons die wonderlike voorreg gaan hê om Hom self te sien soos wat Johannes in Openbaring 1:12-16 Hom gesien het. Voor al die uitverkore engele gaan ons almal saam vergader wees voor die bema, die podium of troon in die hemel. Dan gaan elkeen van ons ʼn geleentheid kry om die Here Jesus in die oë te kyk. Op daardie oomblik gaan elke sekond van my lewe, elke gedagte (vgl. Jak. 1:14 -15), elke woord (Mat. 12:36) en elke daad (Rom. 2:6) daar voor Hom op die bema in die hemel geplaas word. Ons gaan Hom sien soos Hy regtig is en in sy “oë wat soos ʼn vlammende vuur is” opkyk. Met daardie oë gaan Hy ons hele lewe beoordeel. Paulus verduidelik dit so:

Die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel. As iemand se bouwerk behoue bly, sal hy loon ontvang. As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly – hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:13-15).

Hier verduidelik Paulus dat alles wat ʼn kind van God sedert sy of haar wedergeboorte doen, is soos om te help bou aan ʼn gebou waarvan die Here Jesus Christus die Fondament is. Of ons nou “op die fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, gras of strooi – elkeen se bouwerk sal duidelik word, “want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit [ons bouwerk] geopenbaar word en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel” (1 Kor. 3:12-13).

Wat ʼn dag om na uit te sien, die dag wanneer ons in die heerlikheid van die Here sal ingaan! Maar net dit van ons lewe wat nie verbrand word nie, sal die “goud, silwer en kosbare stene” wees in die “onverwelklike oorwinningskrans” wat ons ontvang (1 Kor. 9:25). ʼn Lourierkrans wat eintlik ʼn goue kroon met silwer en kosbare stene sal wees. Ja, krone wat ons, soos die 24 ouderlinge, ook voor die voete van die Een op die troon sal kan werp (Open. 4:4, 10).

Petrus maan egter dat baie gelowiges by hierdie podium beoordeling “nouliks” of “beswaarlik” gered gaan word (1 Pet. 4:17-18). Hulle gaan dus deur vuur heen, miskien net met ʼn klompie as langs hulle, die hemel in. Alhoewel hulle dankbaar gaan wees om daar te wees, gaan hulle nie kry wat die Here volgens sy oorspronklike plan met hul lewe, vir hulle voorberei het nie. Ons verskyning voor die podium waar die Here Jesus ons gaan beoordeel is dus ʼn dag waarna ons enersyds kan uitsien, maar andersyds tog ook kan vrees. Die rede om terughoudend daaroor te wees is dat elkeen sy loon sal ontvang “volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was” (2 Kor. 5:10).

Gelukkig is dit die Here Jesus wat ons gaan beoordeel. Die Vader het die oordeel aan Hom oorgegee (Joh. 5:22) want Hy is ons groot Hoëpriester wat weet wat dit beteken om ʼn mens in hierdie sondige gevalle wêreld te wees (Heb. 4:14-15). Meer nog, Hy gaan ons nie net beoordeel betreffende ons sonde nie, maar gelukkig ook in terme van die goeie (en die slegte) wat ons gedoen het.

Wat het ons dan om te vrees? Dat die Here ons sal wegwys en dat ons verlore sal gaan? Natuurlik nie: Hy praat van die loon of beloning wat die kinders van die Here van Hom gaan ontvang. Die loon is nie die ewige lewe nie. Die ewige lewe ontvang ʼn mens met jou wedergeboorte wanneer jy ʼn kind van God word. Dit is dan dat jou naam in die boek van die lewe opgeteken word. Wanneer Paulus in 1 Korinthiërs 3:13-15 praat van sy hoorders wat hul loon sal ontvang, bedoel hy mense wat reeds “die ewige lewe as iets blywends in hulle het” (1 Joh. 3:15). Mense wat reeds tot geloof in die Here Jesus gekom het toe hulle die verlossing wat Hy aan die kruis bewerk het, aanvaar het.

Sulke mense leef in gehoorsaamheid aan die stem van die Here Jesus “omdat hulle sy stem ken” (Joh. 10:2-4). Maar ongelukkig kan kinders van die Here ook ongehoorsaam wees en Hom bedroef en sodoende hul loon verloor (2 Joh. 8).

Nou wat het ons dan om te vrees? Is my vrees dalk dat ek nie die volle loon wat Jesus vir my voorberei het en wat God die Vader in sy krag vir my bewaar, sal ontvang nie. Hoe graag wil elkeen van ons dan nie daardie dag hoor hoe die Here Jesus vir ons sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer” (Mat. 25: 21, 23).

Nee, dit mag wees dat ʼn kind van die Here rede mag hê om te twyfel, te vrees of hy sy volle beloning gaan ontvang. Dit is egter nie die vrees waaroor dit hier in die eerste plek gaan nie. Nee, die vrees is eerder die onsekerheid en die afwagting van die oomblik dat ons die Here Jesus gaan sien. Dit is die ontsag wat ons vir Hom het, want ons weet dat “ons God is inderdaad ʼn verterende vuur” (Heb. 12:29).

Daar is egter mense wat geen ontsag vir God het nie. Hulle leef sonder vrees vir God of vir enige oordeel wat wag. Soos wat die ryk man in die doderyk moes hoor dat sy broers die Woord van die Here het om na te luister (Luk. 16:31), so geld dit ook vir elkeen van ons vandag. In die tyd van genade het ons nog die geleentheid vir sondebelydenis en berou. In daardie dag word ons egter geoordeel. Dit wat die Here aan ons as sy wil bekend gemaak het deur sy Woord, sal die maatstaf wees. Dit beteken dat ons lewens gemeet sal word aan ons navolging van die Woord van God en hoedanig ons ons lewens daarvolgens ingerig het. Ook aan ons gehoorsaamheid aan Jesus, ons Here, wat die Woord, die Weg, die Waarheid en die Lewe is.

Laat ons ons dus daarvoor beywer om Hom in alle opsigte gehoorsaam te wees.

Die Hebreër skrywer bemoedig ons met die woorde:

“Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word … laat ons toetree met ʼn waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ʼn slagte gewete en die liggaam gewas met rein water” (Heb. 4:16; 10:22).

Die enigste straf vir ʼn mens se sonde is die ewige dood, want “die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23). Elke mens is sondig en ontbreek aan die heerlikheid van God (Rom. 3:23). Daarom het Jesus aan die kruis met sy bloed vir ons versoening met die Vader bewerk (1 Pet. 1:19; 3:18). Hy, die onskuldige het “vir die sonde eens en vir altyd gesterwe” (Rom. 6:10). Elkeen wat in sy of haar lewe by die plek kom waar hulle die offer van die Here Jesus met sy kruisdood aanvaar as dat Hy in hul plek gesterf het, word gereinig deur die bloed van Jesus (1 Joh. 1:9). Hulle word met God versoen en het die ewige lewe. Weens die geloofsekerheid wat die Here hierdeur vir hulle gee, vrees hulle nie ʼn oordeel nie want, soos Johannes sê, hulle het “vrymoedigheid in die oordeelsdag” (1 Joh. 4:17). Hulle het geloofsekerheid want hulle “weet dat hulle die ewige lewe het” (1 Joh. 5:13).

Die feit dat hul sonde vergewe is en dat hulle kinders van die Here is, vrywaar hulle daarna egter nie van sonde en ongehoorsaamheid nie. Daarom moet hulle hul oë op die Here Jesus hou terwyl hulle “elke las aflê en die sonde wat hulle so maklik omring.” Die feit dat hulle van hul sondelas verlos is, maak nie dat die sonde hulle met rus sal laat nie. Daarom moet hulle “met volharding die wedloop loop wat voor hulle lê, die oog gevestig op Jesus” (Heb. 12:1-2). Hoe maklik gebeur dit nie dat ons aandag van Jesus afgetrek word nie. Daarom, wanneer ons voor Hom gaan verskyn, gaan Hy oordeel hoedanig ons sy leiding gevolg en na sy stem geluister het. Hierdie podium beoordeling is die geleentheid waar Hy graag aan elkeen van ons dit wat Hy voorberei het vir ons wil gee. Dit kan gebeur dat ʼn kind van God hier “skade” kan ly “alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:15).

Dit is hierna dat Paulus verwys wanneer hy die woord bema gebruik wanneer hy sê dat die kinders van die Here almal op die podium voor Christus sal verskyn om hulle onverganklike oorwinningskranse te ontvang.

Uit dit blyk dit dat daar verskillende grade van beloninge is vir die gelowiges net soos ons gesien het dat daar verskillende grade van straf vir die ongelowiges is. Paulus het duidelik op die Areopagus te Athene gesê:

“God het ʼn dag bepaal waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ʼn man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:31).

Ken jy hierdie Man? Het jy al jou knieë voor Hom gebuig, jou verlorenheid bely en Hom aangeroep om jou te red? Sy bloed het die krag om al jou sondes weg te was.

Vra Hom om dit te doen, en Hy sal.

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:9).

Paulus verseker ons dat Hy “wat ʼn goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Fil.1:6).

“Mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van ons Here Jesus Christus!” (1 Thes. 5:23).

Posted on Leave a comment

Wanneer jy bid.

Wat behels dit wanneer die Here Jesus vir ons sê om in ons binnekamer te gaan, die deur te sluit en te bid tot ons Vader wat in die verborgene is? (Matt. 6:6) Dit teenoor gebede wat in die singoges en op die hoeke van die strate gebid word met ‘n ydele herhaling van woorde. Luister asseblief hierdie boodskap van Naas om uit te vind.

 

 

 

 

 

 

 

 

Naas le Roux