Posted on Leave a comment

Dit is nog nie jou tyd nie

‘n Getuienis deur Naas le Roux (Uit die Kerugma Bulletin van Februarie 2014)

Dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie (1 Joh. 1:5).

Die engele … is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie? (Heb. 1:13-14).

Beste Kerugma Ondersteuner,

MERKWAARDIGE HERSTEL VAN ‘N HARTAANVAL

In die vorige Kerugma Bulletin het my vrou Marina vir u genoem van die hartaanval wat ek op 20 November 2013 gehad het. Eintlik moes ek gesterf het, maar die Here het anders beslis en verder ook aan my ‘n merkwaardig herstel gegee. Ons wil u almal uit die diepte van ons harte bedank vir die bemoediging wat ons van oral af ontvang het. Gedurende die tyd het ek twee baie besondere ondervindinge gehad wat ek graag hier met u wil deel.

EERSTE ONDERVINDING

Die eerste ondervinding was tydens die hartaanval self. Nou moet u verstaan dat hierdie hartaanval vir ons as ‘n groot skok gekom het. Deur die genade van die Here het beide my ouers (nou onderskeidelik 94 en 88 jaar oud) nog nooit enige hartprobleme ondervind nie. ‘n Hele paar jaar gelede het ‘n professor in kardiologie by die Universitas Hospitaal te Bloemfontein, nadat hy verskeie toetse op my hart gedoen het, my verseker dat ek nooit as gevolg van my hart sou sterf nie. Gedurende die jare daarna het verskillende dokters dit ook bevestig.

Kort na ons terugkeer van die verfilming van Dr Randall Smith se Italië toer in September 2013, het ek ‘n effense drukking in my borskas ervaar terwyl ek geswem het. Ons huisdokter het my ondersoek en ‘n EKG geneem. Terwyl hy na my hart geluister het, sê hy toe, “As daar iemand is wat nooit ‘n hartaanval sal kry nie, is dit jy.” Ek noem dit net sodat u sal verstaan hoekom hierdie hartaanval ons regtig onverhoeds betrap het. Boonop, soos ons dit verstaan, is hoë bloeddruk en hoë cholesterol risiko faktore met betrekking tot hart siektes. Ongeveer drie jaar gelede het ons huisdokter my sterk aangemoedig om my cholesterolvlak af te bring deur my dieet te wysig en meer gereelde oefening te doen. Dit het ek gedoen. Toe hy die EKG geneem het, sowel as gedurende die 15 dae wat ek in die hospitaal was met die hartaanval, was my cholesterol al die tyd, soos ek dit verstaan, op die mees ideale vlak moontlik. Verder, deur die genade van die Here, het ek nog nooit hoë bloeddruk gehad nie. Inteendeel, ek ly aan lae bloeddruk.

Op die dag van die hartaanval het ek na ‘n biokenetikus gegaan om my te masseer vir ‘n pyn in my linker skouer. Sy praktyk is in die gimnasium waar ek gereeld drie maal per week geoefen het. Soos gewoonlik het ek nie op die apparaat geoefen na die massering nie, maar net gaan swem. Dit is toe dat ‘n vreemde ding gebeur het. Nadat ek twee lengtes geswem het en ek ‘n oomblik asem geskep het voor die volgende lengte, hoor ek ‘n vreemde ‘grrrr’-geluid. Die swembrilletjie wat ek gehad het, het ‘n dik plastiese neusbrug gehad wat veronderstel was om te hou. Ek het gehoor hoe die plastiek van bo tot onder skeur. Dit was asof twee onsigbare kloue die bril uitmekaar trek. Ek kon dit nie glo nie. Daar het ek gestaan met die stukkende swembrilletjie in my hand. Ek kon dus nie verder swem nie. Ek het maar uitgeklim, gestort en net toe ek die kleedkamers wou verlaat, het ek dieselfde drukking op my bors gevoel as ‘n paar weke vroeër.

Ek het op die houtbank in die middel van die vertrek gaan sit, ‘n paar keer diep asemgehaal in die hoop dat die drukking sal oorgaan soos die vorige keer. Dit het egter net erger geword, totdat dit gevoel het asof ‘n olifant op my borskas sit. Daarop het ek ‘n student wat net toe daar aangekom het, gevra om asseblief na ontvangs te gaan en te vra vir hulp. Van wat die biokenetikus my ‘n vorige keer vertel het, het ek geweet dat die gimnasium se personeel opgelei is in eerstehulp. Ek was magteloos en het op die bank gaan lê. Die volgende oomblik het ek gehoor hoe die ontvangsdame oor die interkom alle personeel beveel om onmiddelik na die manskleedkamer te gaan. Sy het ook gevra dat enige mediese dokter wat in die fasiliteit mag wees asseblief by ontvangs moet aanmeld. Die volgende oomblik het ek iemand agter my hoor vra wat my naam is, wat my vrou se naam is en wat haar telefoonnommer is. Toe ek die laaste syfer van die nommer gesê het, het ek geweet dat ek dit nie weer sal kan herhaal nie. Voorts vra hy my toe watter dag van die week dit is, maar ek kon dit gladnie onthou nie. Die volgende waarvan ek bewus was, is dat ek gedroom het; altans so het dit vir my gevoel. Dit is die eerste ondervinding waarvan ek u wil vertel.

Twee weke na my ontslag uit die hospitaal het ek die gimnasium besoek om hulle te bedank. Hulle het my toe vertel dat net ‘n paar sekondes nadat ek my bewussyn verloor het, my gesig heeltemal donker geword het. Hulle het my toe twee keer geresussiteer en vier keer geskok. Terwyl dit alles gebeur het, was ek onbewus van my omgewing. Ek kon glad nie eers onthou dat ek in die gimnasium was nie. Ek was op ‘n totaal ander plek. Dit het vir my gevoel net soos wanneer ek droom. Ek sê dit omdat ek normaalweg nie my drome goed genoeg onthou om dit te kan oorvertel nie. Die keer egter kan ek alles in detail onthou. Ek het my bevind in ‘n groot kubus van lig. Dit was soos ‘n groot vierkantige plek wat uit lig bestaan. Ek was besig om teen ‘n hoë spoed deur hierdie helder suiwer lig te beweeg. Daar was geen skaduwees nie; net lig, maar die lig, alhoewel dit baie helder was, was nie verblindend nie. Dit was sag op my oë sodat ek daarin kon kyk. Dit was asof ek opwaarts beweeg het totdat ek aan my linkerkant ‘n muur kon sien en bo my in die verte iets soos ‘n plafon. Ons het nou stadiger beweeg en dit was asof twee persone my aan die skouers opdra na die plafon. Een ding wat bo alles uitgestaan het, was ‘n alles deurdringende vrede. Dit was asof die hele plek gevul was met ‘n tasbare vrede wat om my was en deur my gegaan het. Beide die lig en die vrede is iets wat ek nog nooit voorheen ervaar het nie – en wat ek sedertdien nie in staat is om te beskryf of te herleef nie. Dit is iets wat ons onsself nie kan indink of in ons taal en terme kan beskryf nie. Onderwyl ek deur hierdie ongelooflike vrede omring en deurdring was, is ek opwaarts geneem in ‘n heen en weer beweging, byna soos wanneer ‘n mens ‘n geldstuk in water gooi en dit heen en weer afbeweeg. Terwyl ek so beweeg het, kon ek sien dat die mure liggeel en die plafon wit was. Terwyl ek nader beweeg het na die plafon het ek gesien dit is soos ‘n mislaag, ‘n wolk, waardeur ‘n mens maar net kon gaan. En toe gebeur dit. Net toe ek deur die plafon moes gaan, was dit asof daar ‘n besluit geneem word en daar kom ‘n stem. Dit was asof ek die letters kon sien en die woorde kon hoor, maar ek het dit nie gesien of gehoor nie. Die stem was soos klank wat dwarsdeur my gegaan het en ek kon dit baie duidelik binne-in my hoor. Ek het geen ander manier om dit te beskryf nie. Dit was ‘n helder duidelike stem wat net gesê het, “Nie nou al nie.”

Die volgende oomblik het dit vir my gevoel asof tien donkies my tegelyk op my ruggraat en in my sye skop. As gevolg daarvan het ek in die lug opgetrek terwyl ek my longe uitskreeu. Ek het teruggeval tussen ‘n groep mense wat baie verlig geklink het en terwyl ek so op die harde bank in die gimnasium lê, was ek intens bewus van ‘n hele paar dinge. Die eerste was dat ek ‘n hartaanval gehad het en alhoewel die Here my teruggestuur het, lê daar nou ‘n moeilike tyd van herstel voor. Ek het egter geweet dat die Here my krag sou wees en my deur dit sou dra. Hierdie wete het my, ten spyte van verskillende terugslae, die volgende dae in die hospitaal gedra.

Verder kon ek duidelik in my geestesoog sien presies wat die Here wil hê dat ek moes doen voordat Hy my gaan kom haal. Dit was asof dit binnekort gaan wees, maar Hy gee my die kans om die dinge eers af te handel. Dit was alles dinge waaraan ek deur die jare gewerk het, maar wat ek weens verskillende redes nooit kon voltooi nie. Die een allesoorweldigende besef was dat ek nou op geleende tyd leef. Tyd wat die Here my in sy genade gee om dit wat Hy aan my opgedra het, te voltooi.

Voorts was dit vir my baie duidelik dat die Here wil hê dat ons van nou af al ons tyd en aandag alleen aan Sy werk moes wy. Sedert die ontstaan van Kerugma Produksies het ons in die geloof geleef en die Here vertrou om in ons eie behoeftes asook in die van die bediening te voorsien. Met tye het die Here ons egter gelei om deur middel van sekulêre werk ook fondse vir die bediening in te bring. Alhoewel dit van ons tyd en energie getap het, het ons ook op die wyse baie geleer in verband met die uitsaaiwese. Juis net voor die hartaanval is ons gevra om ‘n kwotasie te gee vir ‘n groot projek wat ons finansieël baie sou help, maar wat ook heelwat van ons tyd en energie sou neem en ons onder groot druk sou plaas. Nou was dit vir my baie duidelik dat die Here wil hê dat ons voortaan geen tyd en energie aan sulke projekte moes spandeer nie. Ons moes al ons tyd en aandag aan Sy werk alleen wy.

Die tweede aand na my hartaanval, toe ek nog te swak was om te praat en ek Marina nog niks van die ondervinding kon vertel nie, het sy met haar besoek aan die hospitaal, vir my gesê dat die Here die oggend in haar stiltetyd dit vir haar duidelik gemaak het dat ons alle betrokkenheid by sekulêre projekte moet stop. Wat ‘n wonderlike bevestiging!

Terwyl ek so my rug lê, het ek gehoor hoe ‘n mediese dokter aan iemand verduidelik dat sy by die gimnasium se ingang verby gestap het toe die aankonding oor die interkom gekom het. Sy het dit toe haar plig geag om aan te meld. Is die Here se tydsberekening nie wonderlik nie! Sy het verder genoem dat toe hulle haar na my gebring het, ek reeds geen pols meer gehad het nie. Terwyl ek nog na die gesprek luister, het die paramedici ingekom en my na die ambulans gedra wat reeds buite gewag het. Ek moet sê ek is baie beïndruk deur die vinnige en professionele diens van die Cape Gate Virgin Active Health Club wat alles so doeltreffend hanteer het. Met my aankoms by die Kuilsrivier Netcare Hospitaal het die kardioloog en sy assistente reeds vir my in die teater gewag om die angiogram te doen. Na die aanvanklike ondersoek het die kardioloog vir my verduidelik dat drie van my are totaal geblokkeer was sodat hulle genoodsaak was om drie stents in te sit.

Na die eerste twee stents ingesit is, het ek egter so swak geword dat hulle besluit het om die derde stent ‘n paar dae later in te sit. Hierna het die kardioloog my ingelig dat ek ‘n groot hartaanval gehad het en dat my hart erg beskadig is. Ek moet verstaan dat ek baie siek is. Hy was ook bekommerd omdat hy kon sien dat ek besig was om inwendig te bloei. Die volgende oggend is ‘n gastroskopie gedoen wat gewys het dat as ’n newe effek ek ‘n groot mantelvliesbreuk opgedoen het. Maar tot hulle verbasing het die hele wond van bo tot onder ‘n roof gevorm. Die gastroentoloog het sy verbasing uitgespreek omdat hulle my voortdurend sedert die hartaanval bloedverdunners toegedien het! Om te keer dat die wond weer sou bloei, kon ek vir die volgende twee dae glad nie eet of drink nie.

Toe hulle hierna ‘n ‘ECHO’ van my hart geneem het, het die kardioloog aan my verduidelik dat terwyl ‘n normale hart gewoonlik ‘n uitwerp fraksie van 60% het, myne net 30% was. Hy het my ingelig dat my situasie baie ernstig was. Vir Marina het hy verduidelik dat my kanse op herstel baie skraal was. Hy het haar voorberei vir die ergste.

TWEEDE ONDERVINDING

Die tweede ervaring wat ek gehad het was agt dae later toe ek weer teater toe is vir die derde stent. Terwyl ek deur die een saal gestoot is, het ek ‘n man en vrou in siviele klere sien staan langs een van die beddens. Omdat die hospitaal geen besoekers buite besoekure toegelaat het nie, het hulle my opgeval. Tot my verbasing sien ek toe in ‘n volgende saal dieselfde paartjie. Ek was verbaas oor hoe vinnig hulle van die vorige saal af daarheen beweeg het. Terwyl ek by hulle verby beweeg, het albei in my rigting gedraai en vir my gekyk. Nou vir die van u wat nie weet nie, ‘n mens kry nie narkose met ‘n angiogram nie, maar is honderd persent by en dus bewus van alles wat gebeur. Terwyl ons in die teater inbeweeg het, het ek dieselfde twee persone gesien waar hulle met geboë hoofde na mekaar gedraai staan. Soos ek ingestoot is het ek op my rug gelê en opgekyk in hul gesigte. Ek kon duidelik sien dat hul lippe beweeg, asof altwee besig was om te bid. Nadat hulle my op die x-straal bank neergelê het, het ek weer gekyk na waar ek die paartjie gesien het, maar daar was niemand nie.

Gedurende ‘n angiogram, terwyl ‘n mens op die x-straal tafel lê, beweeg ‘n bestralingsbuis stadig oor jou borskas en gesig. Die radioloog en sy span sit aan jou regterkant en hou jou hartfunksie op twee groot skerms aan jou linkerkant dop. Jy moet jou kop na die skerms draai sodat die bestralingsbuis nie teen jou neus stamp nie. Eerstens spuit hulle ‘n kleurstof in jou are in wat die bloedvloei in jou are duidelik op die skerms toon. Dit is hoe hulle vasstel waar die vernouings in jou are is. Dan beweeg hulle ‘n angio kateter van jou lies af in die aar op na die vernoude area. Terwyl die kardioloog al ‘n hele tydjie met hierdie prosedure besig was, het hy skielik gevra, “Wat gaan nou aan? Wat het nou verkeerd gegaan?” Die volgende oomblik het die skerms swart geword en die bestralingsbuis het buite beheer heen en weer begin swaai. Die volgende waarvan ek bewus geword het, is dat ‘n dame my kop vashou en vra of ek weer by hulle is. Toe ek bevestigend antwoord, vra sy wat my naam is en of ek weet waar ek is. Ek sê toe, “Ek is Naas le Roux en ek lê hier in die teater waar julle besig is om in my are rond te kruip.” Toe ek dit sê, het sy haar verligting duidelik te kenne gegee. Twee dae daarna het ek die kardioloog gevra wat daar gebeur het. Hy het met ‘n glimlag geantwoord, “O, ons het jou maar net vir ‘n paar oomblikke verloor.” Later het ek uitgevind dat wat eintlik gebeur het, is dat my hart weer gaan staan het sodat hulle my weer geskok het om my terug te bring. ‘n Dokter het vir my genoem dat maar sowat 15% van die gevalle wat geskok word, weer bykom. Dit het my des te meer laat besef dat die Here al die tyd in beheer was. Nadat ek toe weer bygekom het, het die kardioloog voortgegaan en die derde stent ingesit. Hy het selfs verder gegaan en ‘n vierde een ingesit, wat hy as baie belangrik beskou het, maar uiters delikaat om te doen!

Toe die prosedure afgehandel was, het hy vir ‘n oomblik stilgesit en toe gesê, “Ons is nou klaar!” Op daardie oomblik kon ek dit nie help nie. Gewoonlik sê ek nie so iets voor vreemdelinge of mense wat ek nie ken as kinders van die Here nie. Maar op daardie oomblik was ek so oorweldig deur die teenwoordigheid van die Here en die bewussyn dat Hy iets merkwaardig in my liggaam gedoen het, dat die woorde net oor my lippe gebars het: “Prys die Here!” Hierop het een van die verpleegsters saggies ‘n geestelike lied begin sing. Dit was so goed. Voor ek my kon keer het ek die res van die personeel aangemoedig deur te sê, “Wil julle nie asseblief almal saamsing nie, en baie harder ook; weet julle dan nie dat ons in teenwoordigheid van engele is nie?” Toe ek dit sê, het daar skielik ‘n doodse stilte geval en een van hulle vra toe, “Het jy ook die engele gesien?” Toe ek dit bevestig, sê sy, “Weet jy hoe baie mense sien engele hier? En weet jy wat, dit is nie engele wat mense kom wegneem nie. Dit is die wat hier is om te help.” En met dit is ek uit die teater gestoot.

Hierdie insident het my herinner aan Hebreërs 1:14 wat sê dat die engele “dienende geeste is wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe.”

DIE GEVOLG

Die volgende dag het hulle weer ‘n ECHO van my hart geneem waarna die kardioloog my kom sien het. Hy het toe gesê dat hy net wil noem dat hulle as span kardioloë baie tevrede is met die herstel van my hart sedert hierdie tweede angiogram. Hy het verder verduidelik hoe ernstig my toestand die afgelope agt dae sedert die eerste angiogram was. Volgens hom het die mitrale klep wat die vars bloed uit die hart na die liggaam pomp, net hulpeloos heen en weer geswaai. Soos dit vars bloed uitgepomp het, het dit die bloed net weer teruggesuig. Natuurlik kan ‘n mens nie so leef nie. Nou, na die tweede angiogram het dit baie goed gewerk. Alhoewel daar steeds ‘n klein lekkasie was, was dit nie ernstig nie. Baie mense gaan deur die lewe met erger lekkasies as dit. Verdere goeie nuus was dat my hart se uitwerpfraksie verbeter het na 40%, met die gevolg dat ek normaal met my lewe kan voortgaan.

Na my ontslag uit die hospitaal moes ek vir die eerste week 10 minute twee keer per dag stap. Daarna moes dit met 5 minute elke week vermeerder. Toe ek by die kardioloog was vir my ses weke opvolg besoek, het ons hond my en Marina reeds twee keer per dag vir ‘n 35 minute stap geneem – dieselfde as waaraan ons voor die hartaanval gewoond was. Ek het toe aan die kardioloog verduidelik dat ek nog baie swak voel en uiters onfiks was en veral ontbreek het aan die nodige selfvertroue om alleen te stap. Daarop het hy gereël dat ek tweemaal per week onder die toesig van hul biokenetikus saam met ander hartpasiënte deelneem aan ‘n fisiese rehabilitasie program.

Goeie nuus is dat die ECHO wat gedoen is gedurende die opvolg besoek, gewys het dat my hart se uitwerpfraksie verder tot 45% van die ideale 60% verbeter het. Alhoewel ‘n deel van die hart permanente skade opgedoen het en volgens die kardioloog net ‘n litteken sal word, vertrou ons die Here vir nog verdere herstel. Vir dit alles eer ons die Here. Sy getrouheid, genade en goedheid deur hierdie hele ervaring heen, was eenvoudig net ongelooflik.

BETER AS VOORHEEN

Na aanleiding van die toetse wat met die opvolg besoek gedoen is, het die kardioloog gesê dat ek nou kan voortgaan met my werk soos voorheen. Ek het toe aan hom verduidelik dat my en Marina se werk onder andere behels dat ons gereeld toere in die Bybellande gaan afneem. Ek het aan hom beskryf hoe ons verlede jaar September, pas twee maande voor die hartaanval, ‘n piek van Capri eiland op die kus van Italië saam met Dr. Randall Smith uitgeklim het tot by Tiberius se kasteel. Ek het aan hom genoem dat dit vergelyk daarmee om Leeukop in Kaapstad uit te klim. Op toer self neem ons vir twee weke aaneen elke dag by elke Bybelse besienswaardigheid Randall se aanbieding, asook die omgewing af en in die bus, soos ons van plek tot plek ry, neem ons ook die hele tyd alles wat Randall praat, af. In die aande werk ons elke dag tot een- of tweeuur soggens om die batterye te herlaai en kopieë op verskilende hardeskywe te maak van dit wat ons daardie dag afgeneem het. Terug in Suid-Afrika redigeer ons dit alles. Video redigering word beskou as die vyfde mees spanningsvolle werk wat ‘n mens kan doen. En dit doen ons vir 14 ure elke dag, ses dae van die week. Nadat ek dit kortliks so aan hom verduidelik het, wou ek van die kardioloog weet of hy regtig sou sê dat ek normaal daarmee kan voortgaan. Hy het geglimlag en gesê, “Wel as ek kyk na die uitslag van die 25 minute ‘stress-EKG’ wat ons so pas gedoen het, kan ek nie sien waarom nie.” Daarop het hy vir my fotos gewys van my hart voordat die stents ingesit is en daarna en gesê, “Jy praat van verlede September. Die feit is dat die are so vernou was vir die afgelope drie jaar reeds. So, as jy komende September Capri eiland gaan uitklim, behoort jy dit makliker te vind want jou hart kry nou ‘n konstante vloei van bloed wat nie die geval was die afgelope drie jaar nie.”

Is dit nie goeie nuus nie? Prys die Here saam met ons. Alhoewel dit nog tyd sal neem om weer fiks te word, en ek meer versigtig as ooit moet wees, het die Here my ‘n geleentheid gegee om die werk wat Hy vir my het, te voltooi.

Dink asseblief aan ons in u gebede. Ons het dit nodig.

‘N SKYNDOOD-ONDERVINDING EN ENGELE. KAN DIT WEES?

Ek het die vrymoedigheid geneem om die bostaande getuienis uit te skryf, wel bewus van die kontroversiële aard daarvan. Die feit is egter dat dit net so gebeur het en ek vertel dit graag met die hoop dat dit ‘n bemoediging sal wees vir baie. Een ding wat vir my reg deur hierdie hele ervaring uitgestaan het, was hoe die Here tot in die fynste besonderhede in beheer van alles was. Ons huisdokter van die afgelope 15 jaar was baie geskok om te hoor dat ek ‘n hartaanval gehad het. Sy kommentaar op die swembrilletjie wat gebreek het, was dat as dit nie op daardie stadium gebeur het nie, “sou hulle jou gekry het waar jy in die swembad rond gedobber het, want jy sou water gesluk en verdrink het.” Verder, toe die kardioloog my reg aan die begin vertel het dat ek ‘n hartaanval gehad het, het ek gesê dat ek oor vier dae na die VSA sou vlieg. Sy kommentaar was, ”ook maar goed dit het nou gebeur, want jy sou verseker nie die opstyging van die vliegtuig oorleef het nie.” Toe die gimnasium Marina gebel en gevra het of sy soontoe sou kon kom, moes sy hulle inlig dat sy nie vervoer het nie omdat ons net een motor het, wat toe natuurlik by die gimnasium geparkeer was. Ons seun, Filip, is gewoonlik nooit terug van die werk voor 19:00 nie. Daardie dag, net nadat Marina die oproep van die gimanasium gekry het, stap Filip by die voordeur in! Sy program het net so uitgewerk dat hy vroeg huis toe kon kom. Op soveel maniere het ons die hand van die Here sien werk. Ek glo ook dat die Here ‘n doel gehad het daarin om my hierdie dinge so te laat beleef.

Wat betref die engele het ek altyd geglo wat die Bybel ons leer, naamlik dat hulle altyd by ons teenwoordig is en agter die skerms werk (Ps. 91:10-12, Heb. 1:14). Dat die Here dit toelaat dat sommige van ons hulle per geleentheid sien is ook Bybels. Dat ek dit ooit self sou ervaar, het ek nooit gedink nie. Tog lees ons nie in die Bybel dat diegene wat per geleentheid engele gesien het, hulle aanhoudend gesien het nie (Hand. 5:19-20, 12:5-11). Dit was gewoonlik ‘n eenmalige ondervinding met ‘n spesifieke doel.

Een persoon wat gehoor het dat ek in so ‘n ligkubus was het gevra of dit ‘n skyndood-ervaring was. Ek weet nie. Die probleem met skyndood-ervaringe is dat mense uit die getuienisse daaroor tot gevolgtrekkinge kom oor wat hulle noem “die ander kant.” Baie van hierdie gevolgtrekkinge, so glo ek, is verkeerd. Dat mense van verskillende gelowe van oral oor die wêreld sulke ervaringe het, is duidelik uit verskillende boeke en artikels daaroor. Uit navorsing oor verskillende van hierdie getuienisse blyk dit dat byna almal sê dat hulle sou verkies om eerder daar te bly. Op grond daarvan is daar diegene wat die gevolgtrekking gemaak het dat die Bybel verkeerd is omdat niemand getuig het dat hulle in die hel was nie. Hulle glo dat almal van alle gelowe die ewigheid in hierdie wonderlike plek gaan deurbring waarvan so baie mense getuig. Gedurende ons bediening het meer as een ongeredde persoon ons vertel van hulle wonderlike skyndood-ervaring. Een van hulle het later tot bekering gekom. Almal van hulle het een ding in gemeen gehad: hul skyndood-ervaring het alle vrees wat hulle vir die dood gehad het, weggeneem. Soos wat ek en Marina mense beraad het en ook uit dit wat ons gedurende ons teologiese opleiding daaroor gelees het, was dit duidelik dat niemand wat getuig het van hierdie ervarings ver genoeg gegaan het om die Regter, die Here Jesus Christus, te ontmoet nie. Daarom was hulle nie bewus van dit wat hulle lot sou wees nie. Iewers op pad om die Regter te ontmoet, het hulle weer hulle bewussyn herwin. Hulle het dus nog nie regtig gesterf nie. Volgens die Bybel is diegene wat gesterf het en teruggekom het, opgewek uit die dood. Dit beteken dat hulle nie net hul bewussyn verloor het of selfs klinies dood verklaar is om later weer hul bewussyn te herwin nie. Hulle het werklik gesterf.

Nou, wat dan van ‘n getuienis soos myne hierbo? Al wat ek weet is dat wat ek ervaar het, nie dieselfde is as baie ander soortgelyke getuienisse wat ek gehoor en gelees het nie. Baie van daardie getuienisse verskil van mekaar. Die feit is dat ek nie gesterf het nie. Ek is in my spore gestop op pad daarheen. Ek was baie na aan die dood, maar die Here het my teruggestuur. Ek kan dus niks meer sê as waarvan ek getuig het nie. Daarom wil ek u vra om asseblief nie tot enige gevolgtrekking te kom oor die “ander kant” uit my getuienis nie. Onthou asseblief dat dit vir my soos ‘n droom was en miskien was dit net dit. Tog bevestig dit vir my een ding en dit is wat Hebreërs 9:27 sê, naamlik dat alle “mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel.” Dit was nog nie my tyd om vir daardie oordeel te verskyn nie. Soos ek dit verstaan, het ek nog werk om te doen voordat ek kan gaan.

EEN DING

Daar is een ding wat ek graag van u wil weet: As u skielik ‘n hartaanval sou kry, of in ‘n motorongeluk of op enige ander manier sou sterf, sal u by die Here Jesus wees? Weet u sonder twyfel dat Hy u in die hemel sal toelaat? Sal u in Sy teenwoordigheid wees? Wanneer ‘n mens vir mense vra hoe hulle weet dat die Here hulle in sy hemel sal toelaat, is daar baie wat sê dat hulle dit weet omdat hulle Hom ‘aangeneem het’. Dit klink wonderlik, maar na alles is daar steeds diegene wat twyfel of die Here hulle aangeneem het. U sien, daar is ‘n verskil tussen die feit dat ek die Here aangeneem het en die wete dat die Here my aangeneem het (vgl. Rom. 8:15; Efe. 2:5 en 1 Joh. 3:1). Daar is ‘n sekere wyse waarop ons kan weet dat ons kinders van die Here is. Aan die einde van sy eerste brief skryf Johannes, “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het” (1 Joh. 5:13). Hy skryf hierdie brief aan mense wat reeds in die Here Jesus Christus glo, maar wat nog kortkom dit wat u dalk ook mag kortkom en dit is die seker wete dat God in Sy genade hulle aangeneem het as een van sy kinders.

Nou hoe kan ons hierdie sekerheid kry? Wel ek dink dit is voor die hand liggend: Lees net hierdie brief van Johannes en vra die Here om aan u te bevestig of u aan Hom behoort of nie. Dit is hoekom hierdie brief geskryf is. Miskien moet u vir die volgende paar dae dit ‘n paar keer oor en oor lees. Hou net aan om die Vader te vra om aan u te bevestig deur Sy Woord of u een van sy kinders is.

U kan ook ander dele in die Bybel lees, net soos u verkies. Kan ek u vra: wanneer u die sekerheid kry dat die Here u sondes vergewe het en u aanvaar het as een van sy kinders, laat weet ons asseblief daarvan. Ons sal graag in u vreugde wil deel.

Aan die ander kant, as daar steeds twyfel in u hart is, moet asseblief nie huiwer om ons daaroor te skakel nie. Beide Marina en ekself sal maar te graag met u praat en saam met u daaroor bid.

HOEKOM SLEGTE DINGE MET GOEIE MENSE GEBEUR

Iemand wat ons ken, het ‘n hartaanval gehad en is ingejaag na dieselfde hospitaal waar ek behandel is. Met sy aankoms by die hospitaal is hy egter dood verklaar. Hoekom is my lewe gespaar en syne nie? Ons beskik nie oor die antwoord op hierdie vraag nie. Dr. Randall Smith raak aan hierdie onderwerp in die nuwe DVD, Trouble On The Sea, wat vrygestel is in Desember net na my hartaanval. Ek wil net noem dat hierdie DVD so baie beteken het vir my en Marina in hierdie tyd. Marina het die redigering gedoen en dit aan my oorgegee om die afronding te doen. Ek was veronderstel om dit klaar te maak die aand van die dag wat ek die hartaanval gehad het. Omdat Marina nog nie vertroud was met die proses om die DVD “authoring” te doen nie, het sy gedurende die hospitaalbesoeke vir my verduidelik wat sy gedoen het en waarmee sy gesukkel het. So kon ek haar help totdat die DVD vrygestel was. Sy het selfs ons skootrekenaar hospitaal toe gebring om vir my die eindproduk te wys. Selfs voor dit het sy my vertel hoe baie die boodskap vir haar beteken het van die oomblik af dat die gimnasium haar gebel het met die nuus. En ek kon net bevestig dat Randall se boodskap al die tyd met my gepraat het sedert ek my bewussyn herwin het.

Ek vertrou dat dit ook vir u tot groot seën sal wees.

Naas and Marina le Roux
www.kerugma.org

 

 

 

Leave a Reply